Kubersekuriteit vir jou onderneming

Vir sommige ondernemings is rekenaars kern tot hulle bestaan. Ongeag jou industrie is die kans goed dat jou onderneming van ’n rekenaar of tablet gebruik maak om met kliënte te kommunikeer, fakture op te stel en bestellings te plaas. Daarbenewens bevat jou rekenaar tien teen een belangrike inligting oor jou onderneming wat kern is vir jou dag-tot-dag funksionering. Dit is juis om dié rede dat dit belangrik is om seker te maak dat jou kubersekuriteit op datum is, want indien dit nie is nie kan dit katastrofiese nagevolge vir jou onderneming inhou. Hier is vyf foute wat baie sake-eienaars maak wanneer dit by kubersekuriteit kom:

1) Jy onderskat die bedreiging

Soos die aanlyn teenwoordigheid van ondernemings op die internet groei, so ook groei die moontlike bedreiging dat iemand in jou stelsels kan inbreek. Kubersekuriteitsfirmas dui aan dat die grootste bedreiging vir jou onderneming die volgende is:

Rekenaarvirusse: Virusse kan vinnig skade aan jou stelsels aanrig deur vinnig te dupliseer en lêers uit te vee.

Rekenaarwurms: Wurms versprei deur jou onderneming se netwerk en infekteer eensklaps alle rekenaars op die netwerk. Dié tipe bedreiging verander en vee jou netwerk se data uit.

Spioeneringsagteware: Dié tipe sagteware spioeneer op jou en jou werknemers en stuur sensitiewe inligting na kriminele wat hulle dan kan misbruik.

“Keyloggers”: Hierdie tipe sagteware stoor die knoppies wat jy druk en word gebruik om finansiële misdade te pleeg.

Lospryssagteware: Dié sagteware sluit al jou lêers en stelsels en kan eers oopgesluit word wanneer jy ’n losprys betaal. Baie van die sagteware kom aanvanklik voor as ’n onskuldige e-pos wat toegang tot jou stelsels verkry wanneer iemand op die skakels in ’n e-pos klik. Om die potensiële bedreigings te voorkom is dit van kardinale belang dat jou onderneming die regte antivirussagteware het.

2) Jy vertrou op jou standaard sekuriteitstelsel

Baie rekenaars kom met standaard sekuriteitstelsels, maar die sagteware is nie altyd opgewasse vir die bedreiging nie. Die beste oplossing is om te verseker dat jy sagteware aanskaf wat gereeld opgedateer word aangesien kuberbedreigings konstant aan die verander is.

3) Jy maak staat op gratis sekuriteitsagteware

Soos met enige produk is die kwaliteit van kubersekuriteitsagteware ook verbind aan die prys van die sagteware. Gratis sagteware maak ook soms hulle geld deur gebruik te maak van jou persoonlike inligting of deur advertensies te plaas.

4) Jy is nie proaktief nie

Dit is uiters belangrik om proaktief te wees wanneer dit by jou onderneming se kubersekuriteit kom. Dink aan goeie sekuriteitsagteware as soortgelyk aan versekering teen potensiële verliese. Volgens navorsing het 28% van klein en mediumgrootte ondernemings in 2019 een of ander vorm van sekuriteitsinbrake op hulle data ervaar. Die impak daarvan kan massief wees – veral vir ondernemings wat grootliks van die internet afhanklik is vir die verrigting van hulle werksaamhede.

5) Jy sien nie die groter prentjie nie

Op die oog af mag dit dalk lyk asof sekuriteitsagteware nie noodsaaklik vir jou onderneming is nie. Die probleem is egter dat onregmatige toegang tot jou data ’n reuse-effek op jou onderneming kan hê – ongeag die industrie waarin jy werk. Buiten jou eie inligting maak dit ook jou kliënte se inligting weerbaar vir diefstal. In die kort termyn kan jou besparing op effektiewe kubersekuriteit dus na ’n goeie opsie lyk, maar in die lang termyn kan die negatiewe gevolge daarvan jou onderneming se voortbestaan beïnvloed.

Die topsekuriteitsagteware vir jou onderneming in 2021:

  • Intego
  • Bitdefender
  • Norton
  • McAfee
  • BullGaurd
  • Panda
  • Kaspersky
  • ESET
  • AVG
  • Avira