Nuwe besigheidsidee? Praktiese stappe hoe jy eers jou huiswerk kan doen

Marknavorsing met spanne navorsers, nasionale meningspeilings en duur lewensvatbaarheidstudies is nie vir intree-entrepreneurs beskore nie. Die onlangs uitslag van die grootste entrepreneur meningspeiling in Suid-Afrika, die “Real State of Entrepreneurship in South Africa 2017” verslag dui aan dat meeste entrepreneurs opsoek is na pratkiese vaardighede oor hoe om ’n besigheid te begin en te bestuur. Om ’n nuwe besigheidsidee te begin navors het jy net ’n paar gereedskapstukke nodig om dit op ’n sakpas manier te doen. Voor ons die metodes lys, is dit belangrik om eers te kyk na watter slaggate jy moet vermy.

3 Vooroordele wat jou uitslag kan skeef trek:

  1. Bevestiging van jou eie opinies: Pasop om nie net navorsing te doen om jou eie oortuigings te bevestig nie. As jy wil weet of jou idee lewensvatbaar is, moet jy bereid wees om die uitkoms te aanvaar.
  2. Demografiese vooroordeling: As jy meningspeilings doen of met mense gesels oor jou idee gaan jy meer geneig wees om dit met mense te doen met wie jy gemaklik is. Of dit mans, dames, mense in ’n sekere inkomstegroep of geografiese area – moet jy onthou dat jy met mense moet praat wie jou mark gaan wees. Wees bereid om ongemaklik te wees om ’n eweredige verspreiding van opinies aan te hoor.
  3. Sosiale aanvaarbare terugvoer: Meeste entrepreneurs toets eers hulle idee by hulle vriende en familie. Maak net seker dit is nie waar dit bly nie. Jou familie en vriende is geneig om sosiaal aanvaarbare antwoorde te gee wat jou gerus sal stel. Die doel van marknavorsing is om aanpassings en verbeterings aan jou idee te maak, nie om ’n klop op die skouer te kry nie.

Pratkiese metodes om jou besigheidsidee te toets

SurveyMonkey is ’n maklike en gratis manier waarop jy aanlyn meningspeelings kan skep. Het jy ’n nuwe produk en wil weet watter funksies mense sal verkies? Het jy ’n diens wat jy wil lewer maar is onseker oor watter prys kliënte bereid sal wees om te betaal? Of dalk watter kanale mense gebruik om soortgelyke produkte te soek? Stuur aan jou persoonlike netwerk ’n meningspeiling per e-pos of dit plaas dit op sosiale media en vra jou persoonlike netwerk om deel te neem. Jy sal verbaas wees oor hoe bereid jou kenisse en kontakte sal wees om jou uit te help!

Google Surveys is ’n betaaldiens en kan so goedkoop wees as R1 per terugvoer op jou meningspeiling. Die voordeel is dat jy mense kan bereik wat nie noodwendig in jou eie netwerk is nie. Google kan jou help om miljoene mense te teiken, sonder om in die slaggat te trap van jou eie vooroordele.

Statistiek Suid-Afrika hou ’n gedetailleerde biblioteek van al die onlangse navorsing en statistiek wat relevant is tot Suid-Afrikaners. Meeste van die verslae fokus op makro-ekonomiese faktore, dit is ’n gratis manier waarop jy kan begin antwoorde kry oor hoe groot jou mark is, waar hulle geografies geleë is of wat verbruikers se gedrag is.

Gebruik Google Scholar om navorsingstukke op te spoor. Daar mag dalk bestaande navorsing wees oor jou teikenmark of die tegnologie of funksies van jou produk.

Nog ’n praktiese metode is om ’n Google Ad Word advertensie te loods en te sien of daar belangstelling in jou produk of diens sal wees, selfs al het jy dit nog nie ontwikkel nie. Jy kan met Wufoo maklik ’n aanlynvorm skep wat mense kan invul wanneer hulle op jou skakel geklik het. As jy byvoorbeeld ’n haarkapper wil begin, plaas ’n advertensie met Google Ad Words wat fokus op mense in jou omgewing en kyk hoeveel klik daarop. Hulle word dan herlei na jou aanlynvorm toe wat aandui dat jy binnekort jou deure oopmaak en hulle kan dan invul indien hulle meer besonderhede wil hê sodra jy oop is. Dit gaan jou ’n aanduiding gee van hoeveel mense werklik belangstel.

Met dié paar praktiese navorsingsmetodes kan jy genoeg inligting inwin om te weet of jy jou idee in die asblik moet gooi, en of dit iets is waarin jy meer geld en energie kan stoot. Met ’n nuwe besigheidsidee is die belangrikste huiswerk wat jy an doen om jou mark te vind. As jy weet wie jou produk of diens wil hê en jy het werklike bewyse daarvan, dan is jy reg om die groot tree te maak en ’n entrepreneur te word.