Ontmoet entrepreneur van die jaar-kompetisie borg: Wolk

Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Artikel oor borge

  • Vertel ons meer oor jou onderneming?

WoLK is ’n dinamiese en innoverende onderneming wat fokus op die daarstel van ʼn platform waarop sakemense met mekaar kan skakel, idees kan uitruil en saam aan innoverende projekte kan werk wat ’n positiewe verandering in die landskap van die sakegemeenskap teweeg kan bring. Ons fokus ook op entrepreneurs en nuwe sakeondernemings. Ons glo dat entrepreneurs die ruggraat van die ekonomie vorm en dat hul suksesvolle ondernemings ’n positiewe impak op gemeenskappe en die samelewing as geheel het.

WoLK word gehuisves deur CoolDesk, ’n saamwerkruimte in Potchefstroom wat entrepreneurs, vryskutwerkers en mense geleentheid bied om in ’n professionele omgewing te funksioneer sonder die verpligtinge van ’n eie kantoor.

  • Waarom het jou onderneming by AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie betrokke geraak?

Ons is trots daarop om as borg vir die entrepreneurskompetisie op te tree, omdat ons dit as ’n geleentheid beskou om ons betrokkenheid by die entrepreneursgemeenskap te versterk en om die groei van nuwe en opkomende ondernemings te help aanmoedig. Ons glo dat ons deur middel van ondersteuning, samewerking en die deel van kennis ’n positiewe verskil in die sakewêreld kan maak en ’n blywende bydrae kan lewer tot die sukses van entrepreneurs en hul ondernemings.

  • Waarna kan deelnemers hierdie jaar as deel van jou borgskap uitsien?

WoLK bied ’n uitgebreide reeks dienste en hulpbronne aan entrepreneurs en gevestigde ondernemings. Ons kan help in elke stap van die proses om ’n onderneming te help ontwikkel, groei en bestuur. Afhangend van die aard van die ondernemings in die topvyfposisies kan die detail van die prys of borgskap verskil. Hier onder is ’n lys van moontlike dienste (tot en met 24 uur) wat deel van die prys kan wees.

1. Besigheidsbeplanning en strategie

2. Finansiële beplanning en bestuur

3. Handelsmerkposisionering en -strategie

4. Operasionele en sakeprosesondersteuning

  • Sien jy uit daarna om die topvyf by vanjaar se finaal te ontmoet?

Natuurlik! Hierdie entrepreneurs verteenwoordig die kragtige drome, die dapper visie en die onbeperkte potensiaal wat ons sakeomgewing so ryk maak. Ons is opgewonde om meer te leer oor hul ondernemings, om te luister na hul idees en passies, en om saam met hulle in die opwinding van die ondernemingsreis te deel. Hierdie ontmoeting is nie net ‘n kans om die beste van die beste te sien nie, maar ook om te deel in ’n gemeenskap van denkers en doeners wat die sakelandskap van Suid-Afrika daadwerklik kan verander. Ons is gereed om besiel te word en te besiel, om te ondersteun en saam te groei, en om gesamentlik aan ’n toekoms van ongekende sukses te bou.