ontmoet entrepreneur van die Jaar-kompetisie se borg: kwikstert

Vertel ons meer oor jou onderneming?

Kwikstert is ’n Afrikaanse handelsmerkhuis wat elke tree saam met ons kliënte wil stap. Ons begin by die visuele aspekte en weef jou kernkaraktereienskappe in jou handelsmerk se identiteit in. Daarna neem ons jou identiteit en ontwikkel ’n stemtoon wat praat met die harte van jou ideale teikenmark. Ons sorg dat jy reg kommunikeer en so die regte mense by jou deure laat inloop.

Waarom het jou onderneming betrokke geraak by AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie?

Ons is ongelooflik lief vir Afrikaans en een van die eerste dinge wat ons gedoen het toe ons Kwikstert begin het, is om vriende te maak met AfriForum Sakenetwerk. Afrikaanse besighede is vir ons skatte en dis hier waar ons ’n kanaal en ’n platform het om by hulle uit te kom.

Dit is nie die eerste jaar wat jy as borg optree nie. Waarom bly jy betrokke? Lê kleinsake-entrepreneurs jou na aan die hart?

Jong, ons was ook al daar! Dis asof jy jouself 300 keer moet buig om iets te bereik in ’n land waar regulasies en allerhande faktore teen jou kan tel, maar daar is niks soos ’n Afrikaanse entrepreneur nie. Ons is van iets anders gemaak as ander mense. Innovasie in Afrikanergeledere roer ons hartsnare en ons is elke jaar verstom oor wat daar buite is! Kortweg: Afrikaanse kleinsake-entrepreneurs is ’n inspirasie vir ons om ook weer bo alles uit te styg en te presteer!

Waarna kan deelnemers hierdie jaar as deel van jou borgskap uitsien?

’n Handelsmerk of ontwerpe wat jou siel vasvang. Ek sien verskriklik uit na al die geselsies en om te hoor wat almal doen. Ons hoor gewoonlik by die finaliste wat hulle benodighede is, dan kyk ons hoe ons aan hulle drome vlerke kan gee!

Sien jy uit daarna om die top vyf te ontmoet by hierdie jaar se finaal?

Kwikstert sien verskriklik daarna uit om almal te ontmoet!