ONTMOET ONS ENTREPRENEUR VAN DIE JAAR-BORG: ACCTIVA

Vertel ons meer van jou onderneming.

Ons is ‘n geakkrediteerde rekeningkundige firma wat sedert 1983 dienste aan individue en besighede bied. Die besigheid is net voor COVID-19 deur ‘n nuwe eienaar oorgeneem en ons moes baie vinnig moderniseer om by die nuwe bestuur se werkswyse aan te pas. Ons is gebaseer in Pretoria en fokus op klein en medium ondernemings. Ons is ‘n span van sewe mense, van wie ses dames is, en ons fokus op rekeningkundige en belastingbehoeftes en salarisadministrasie. Ons beskou ons as entrepreneurs met ‘n passie om ander entrepreneurs te help om besighede te begin en om bestaande besighede te help om in Suid-Afrika te floreer. Ons is ‘n moderne firma en gebruik die nuutste tegnologie om ons kliënte te bedien en waarde toe te voeg tot hulle finansiële gesondheid. Hierdie tegnologie verseker akkurate en tydige verslagdoening en dra by tot waardevolle insig in ons kliënte se finansies.

Waarom het jou onderneming betrokke geraak by AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie?

Ons het ’n passie om entrepreneurs by te staan in die uitdagende Suid-Afrikaanse landskap. Die kompetisie is iets wat baie mooi inpas by ons missie om juis sulke entrepreneurs by te staan. Ons glo ons kan aansienlike waarde toevoeg tot hulle besighede deur hulle toe te rus met die beste praktyke in moderne, geïntegreerde en getoetste finansiële rapporteringstelsels. Ons kan nie wag om te sien watter nuwe besighede deur hierdie jaar se entrepreneurs voorgelê word nie.

Waarna kan deelnemers hierdie jaar as deel van jou borgskap uitsien?

Ons sal graag vir elk van die vyf finaliste die volgende wil doen:

  • ’n Gratis oudit (“gap analysis”) van hulle finansiële stelsel en bestaande finansiële rapporteringstelsels
  • ’n Voorlegging oor die optimalisering van hulle sisteem gebaseer op die oudituitslae
  • Drie maande se gratis boekhoudienste verskaf met die gebruik van die bogenoemde stelsels om hulle op die been te kry
  • Sien jy uit daarna om die topvyf te ontmoet by hierdie jaar se finaal?

Ons sien besonder baie daarna uit. Entrepreneurs deel inherent die behoefte om ’n verskil te maak in ’n gemeenskap deur probleme op te los. Dus voel ons as ’n gemeenskap van entrepreneurs ons het baie in gemeen en ons sien uit na die geleentheid om by mekaar te leer en om ons netwerke verder uit te brei.