Oorkom teleurstelling: Drie gevallestudies van besighede wat dit kon doen  

Zig Ziglar het gesê dat dit nie gaan oor of jy val nie, maar hoe jy opstaan. ’n Teleurstelling in jou entrepreneursreis gaan nie oor die teleurstelling self nie, maar hoe jy daarop reageer. Agter elke suksesverhaal is ’n verhaal van deursettingsvermoë. Theodor Giesel se werk as kinderboek skrywer is 27 keer deur uitgewers as “gemors” beskryf, totdat hy een aand ’n ou vriend raakgeloop het wat ingestem het om sy boek te publiseer. Vandag is hy bekend as Dr. Seuss en het al sy boeke die rekordboeke laat sing. Dieselfde geld vir Stephen King wie se werk 30 keer van die hand gewys is. Of wat van Walt Disney wat by ’n nuusblad afgedank is omdat hy nie “kreatief genoeg” was nie? Kris Carr se teleurstelling was kanker en vandag is sy een van die voorste gesondheidskenners en boonop ’n suksesvolle skrywer.

Elke teleurstelling lei nie noodwendig tot ’n wêreldberoemde suksesverhaal nie, maar dit is ongeag iets wat jy moet deurmaak om aan die anderkant uit te kom. Of jy ’n terugslag ervaar in jou huwelik, ’n geleentheid wat deur jou vingers geglip het of finansieel sukkel om kop bo water te hou – is daar duidelike riglyne vir hoe om dit vinnig te verwerk sodat jy weer terug op die perd kan klim wat jou afgegooi het.

Die kliniese sielkundige Melanie Greenberg skryf dat jy nie moet vermy om aan die situasie te dink nie. Jy moet genoeg daaraan dink as dit by jou opkom sonder om 24 uur ’n dag daarin vasgevang te raak. Dink genoeg aan jou probleem om te verstaan waarom jy so voel en wat die beste manier is om te reageer, skuif dan dadelik jou aandag na iets positief. Dit laat jou toe om bewus te bly van die probleem sonder om dit te onderdruk. Mense doen dit gereeld, hulle sal byvoorbeeld nie hulle rekeninge oopmaak nie omdat hulle die probleem wil onderdruk, maar navorsing wys dat dit net erger stres veroorsaak as om te weet presies hoe groot die probleem is. ’n Onlangse studie het gewys dat mense wat bloot hulle gedagtes en gevoelens neerskryf oor ’n verhouding wat so pas beëindig is, vinniger herstel en beter fisiese gesondheid toon in die daaropvolgende maande.

In besigheid is daar seisoene van groei en vooruitgang, en seisoene van her-evaluering en rigting verandering. Hier is drie gevallestudies van besighede wat die skip moes omdraai, ten spyte van die teleurstelling wat hulle in die gesig staar:

  1. AutoTrader

AutoTrader het ’n reuse terugslag in die gesig gestaar, hulle is een van min wat ’n 600 bladsy advertensie-tydskrif kon saamstel, dit druk en weekliks kon versprei. Maar die internet het hulle kompeterende voordeel totaal en al verwyder. In die 2000’s het hulle 230 000 tydskrifte gedruk en vandag verkoop hulle net 30 000 ’n maand. Maar in 2007 het hulle die afwaartse tendens vierkantig in die oë gekyk en nuwe maatstawwe gestel om die probleem te oorkom.

AutoTrader het geweet hulle gaan ’n leier in die aanlynwêreld moet wees maar kon nie akkuraat meet hoeveel mense ’n handelaar besoek as gevolg van die webtuiste nie. Hulle het uit die staanspoor besluit om nie die webtuiste meer ingewikkeld te maak deur mense oor meer hekkies te laat spring om ’n telefoonnommer te sien nie, omdat dit die ervaring van verbruikers benadeel. Dit sou makliker wees om te sien hoeveel mense op ’n handelaar se nommer kliek, maar hulle wou ’n ander manier kry. Soos hulle aanlynteenwoordigheid gegroei het en hulle hul webblad-ontwikkelaars meer outonomiteit gegee het om verbruikers se ervaring te vergemaklik, het hulle aanlyn voete ook vermeerder. Om te meet hoeveel aanlynbesoekers dan die handelaars besoek, het hulle ander telefoonnommers op die webtuiste gehad as in die tydskrif. Die nommer is bloot deur ’n middelman herlei na die handelaar. Dit het hulle die syfers gegee om te sien dat meer mense hulle webtuiste gebruik om by die handelaar uit te kom.

Kort voor lank het hulle advertensies aanlyn verkoop op grond van die drie miljoen besoekers wat 12 minute op ’n slag daar tyd spandeer en 40 miljoen blaaie ’n maand deurblaai. In relatief ’n kort tydperk het AutoTrader ’n aanlyn advertensie platform geraak en meer verbruikers toegelaat om toegang te kry tot handelaars sonder om ’n tydskrif te koop, maar steeds geld kon maak omdat hulle meer mense na handelaars kon verwys as ooit tevore.

  1. Groupon

Groupon is in 2011 as die “vinnigste groeiende maatskappy ter wêreld” beskryf. In die eerste gedeelte van 2010 het hulle teen 1475% in omset gegroei! Hulle het ’n aanbod van Google vir $6 miljard van die hand gewys en is drie jaar later teen $20 miljard geëvalueer. Nie lank daarna nie het hulle meer as 500 kompeteerders gehad en $230 miljoen in die skuld verval. Die HUB van Groupon, Andrew Mason, het aan sy werknemers in ’n memo erken dat hy geïntimideer is.  Hulle aandele prys het van $28 per aandeel $4 per aandeel in 2016 geval. Groupon het in Suid-Afrika vlam gevat maar het ook in 2016 aangekondig dat hulle werksaamhede in die land gaan beëindig.

Die reaksie van Groupon Suid-Afrika was dat die “besigheidsmodel nooit baie goed was nie.” Hulle reaksie tot die strategiese foute was om hulle werksaamhede in 27 lande na 15 te verminder. Groupon is in die posisie waar hulle die werklikheid erken het, aksie geneem het om te verseker dat die besigheid oorleef en in ’n proses is om hulle strategie vir die toekoms aan te pas. Alhoewel Groupon se toekoms nog onseker is, het hulle drasties begin aksie neem en erken dat hulle model nie meer effektief is nie.

  1. SAB

Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) word lank reeds beskou as een van Suid-Afrika se top gehalte besighede. Maar hoe sukses ook vir buitestaanders mag lyk, is dit ’n vlaag van struikelblokke wat hulle moet oorkom om bo te bly. In 2001 is SAB reeds die vyfde grootste brouery in die wêreld met ’n uitset van 77 miljoen hektoliters bier per jaar in 21 lande.

Verder het SAB ook 77 Southern Sun hotelle en 3 dobbelhuise. Maar met groei kom daar ook meer gevare. SAB se posisie op die wêreldranglys is bedreig deur handelsmerk soos Stelle Artois, Carling, Fosters en Budweiser. Die gemiddelde ouderdom van die wêreldbevolking raak ouer wat beteken bier drinkers raak minder. Verder sukkel SAB om met prys te kompeteer met aanlynverskaffers soos lastorders.com.

Hulle reageer op die uitdagings deur gedesentraliseerde bemarkingsinisiatiewe, ’n groter fokus op Poland en Suid-Amerika te plaas waar daar meer nuwe bier drinkers ontstaan en hulle versprei hulle risiko deur meer hotel en dobbelhuise aan te koop.

Op ’n globale skaal kom besighede soos SAB in die gewoonte om met groot uitdagings te worstel. SAB is konstant besig om te reageer en selfs pro-aktief op te tree, want hulle weet dat sukses nie ’n eindbestemming is nie maar ’n reis.

AutoTrader, Groupon en SAB het hulle eie unieke uitdagings. Of dit is om jou hele besigheidsmodel te hersien van drukadvertensies na internet besoeke, jy moet terugsnoei om te kan oorleef of jy voel jy met tien talle uitdagings worstel hoe meer jy groei – kan jy weet dat jy in goeie geselskap is. Besighede wat groei is besighede wat op hulle uitdagings reageer en aanhou nuwe planne maak met die aanname dat dit ’n voortdurende taak is en ’n vereiste is vir vooruitgang. Jy word nie gemeet aan hoeveel keer jy val nie, maar wel aan hoeveel keer jy  weer opstaan.