Sewe foute wat selfs goeie bestuurders maak

As leier maak jy foute, of jy dit al besef het of nie. Dit is nie verbasend nie, volgens Gallup kies maatskappye 82% van die tyd die verkeerde bestuurder en net 1 uit 10 bestuurders het ’n natuurlik aanleg om mense te bestuur. Leiers hoef nie altyd goeie bestuurders te wees nie maar bestuurders moet goeie leiers wees. Die foute van ’n bestuurder affekteer hoe gemotiveerd spanne is, hoe geneig hulle is om die ekstra myl te loop, hoe lank hulle by die maatskappy bly en wat die kultuur van die maatskappy in ontaard. Alhoewel leierskap in meeste gevalle nie ’n natuurlike verskynsel is nie, is dit juis bestuurders se verantwoordelikheid om hulself te verbeter. Jy wil nie die plafon wees wat jou maatskappy of jou span verhoed om te groei nie.

Hier is sewe foute wat selfs goeie bestuurders kan maak:

1. Jy bou vertroue deur spanbou-aktiwiteite

Die organisasie Know your team se navorsing toon dat spanbou-aktiwiteite die minste effektief is om vertroue tussen werknemers te bou. As jy vertroue probeer bou met informele middagetes, naweek wegbreke of Vrydagmiddag drankies – help jy dalk dat mense mekaar beter leer ken, maar nie dat hulle mekaar of jou vetrou nie. Wat moet jy doen dat jou span jou vertrou? Eerstens, wees weerbaar en nederig, erken wanneer jy ’n fout maak en wees eerlik oor wanneer jy nie weet wat die antwoord is nie. Tweedens, deel jou intensies. Verduidelik vir jou span waarom jy die besluite maak wat jy maak. Derdens, kom jou beloftes en verantwoordelikhede na. Jy kan jare aan ’n verhouding bou maar in enkele minute vertroue by die deur uitgooi as jy nie deurvoer met wat jy gesê het nie.

2. Jy stel mense te vinnig aan

Min dinge maak werknemers so negatief as ’n verkeerde aanstelling. Dit laat jou span onmiddelik twyfel in jou vermoë om te lei. Almal se produktiwiteit lei daaronder, maar dit is ook ’n geleentheid om jou krag te wys wanneer jy besef jy het ’n fout gemaak. Jy kan dit erken en dadelik aksie neem.

3. Jy aanvaar werknemers weet wat aangaan

’n Studie waarin 3197 werknemers van 701 afsonderlike maatskappye deelgeneem het, het 55% van respondente aangedui dat daar goed van hulle maatskappy is wat hulle nie weet nie, wat hulle voel hulle behoort te weet. Verder het 42% van werknemers gesê dat hulle wens hulle bestuurder wil meer gereeld met hulle kommunikeer en verduidelik waarom sekere besluite geneem is. As jy wonder of jy genoeg kommunikeer, dan kommunikeer jy te min.

4. Jy glo om besig te wees is goed

Jy is heeltyd op die foon, jou sekretaresse boek jou dagboek propvol en werknemers kyk met trots hoe jy heen en weer hardloop van een kliënt na ’n ander. Is die doel om besiger te wees of meer resultate te kry? Want dié twee faktore gaan nie noodwendig hand aan hand nie. Hoe besiger jy jouself hou met vure doodslaan, e-posse antwoorde en vergaderings hou – hoe minder tyd het jy om met jou span tyd te spandeer, hulle take te prioritiseer en duidelike rigting te verskaf. As jy of jou werknemers te besig is, beteken dit jy bestuur hulle nie goed genoeg nie.

5. Jy dink nie dit is nodig om vir vergaderings voor te berei nie

Vergaderings is die nommer een manier wat bestuurders hulle tyd mors. Meeste maatskappye hou teveel vergaderings met te min struktuur wat te lank aanhou. As jy wel ’n vergadering reel, berei voor vir watter uitkomste jy wil bereik. As jy ’n een-tot-een vergadering met ’n spanlid het, berei jou vrae voor en doen moeite dat hulle weet jy het tyd daaraan spandeer. Effektiewe vergaderings beteken minder vergaderings, wees selektief waarvoor jy ja sê en berei voor vir die wat jy wel bywoon.

6. Jy gee deursigtigheid, maar nie konteks nie

Jy is ’n goeie bestuurder as jy besef het hoe belangrik deursigtigheid is. Daar is ’n tendens waar maatskappye al meer deursigtig is in terme van werknemers se salarisse, bonusse en bestuursbesluite. Maar deursigtigheid beteken nie net om almal toegang te gee tot die maatskappy se Google Drive nie, dit is ook om konteks te skep. Hoe meer inligting jy aan jou werknemers bekendstel, hoe groter is jou verantwoordelikheid om konteks te skep vir daardie inligting.

7. Jy is te vriendelik

Moenie ’n hardekwas wees wat almal ignoreer nie, maar om vriendelikheid as regverdigheid te verkoop is ook nie reg nie. Moenie ’n voel-goed vergadering probeer hou in plaas van ’n eerlike een nie, want dan is jy besig om die maatskappy skade aan te doen. As jy hulp nodig het, lees Crucial Conversations deur Grenny, Patterson, McMillan en Switzler. Dit sal jou help om ’n struktuur te hê vir moeilike gesprekke.

Daar is tonne inligting op die web oor hoe om ’n beter bestuurder te wees, maar daar is net soveel areas waarop jy kan fokus. Identifiseer twee of drie areas waarin jy wil verbeter en kyk of die verandering resultate oplewer. As dit geen verskil maak nie, kies ’n volgende een en probeer weer!