Stel jou fokus in vir sukses – neem beheer van jou te-doen lys

Tim Ferriss, Amerikaanse skrywer en entrepreneur, sê entrepreneurs moet daarop fokus om produktief te wees en nie om besig te wees nie. As entrepreneurs nie hulle eie fokus bepaal nie word hulle meegesleur met waar ook al die wind hulle vat. Maar hoe weet jy dat fokus vir jou ’n probleem is? Die vraag is, hoe lank is jou te-doen lys? Indien jy nie 80% van jou tyd spandeer aan die 20% take wat die grootste invloed op jou besigheid het nie, is jy besig om fokus te verloor.

Daar is talle maniere om jou fokus weer reg te ruk, dit kan wees om meer take te outomatiseer. Spandeer eerder nou tyd om in die langtermyn tyd te spaar deur middel van toepassings, sagteware of beter strukture. Jy kan ook seker maak jy doen jou belangrikste take voor 11:00 in die oggend, wanneer dit nog moeilik vir jou brein is om verskoning te maak. Jy kan ook natuurlik seker maak jy kry genoeg slaap en jou dieet regruk sodat jy vars is om uitdagende take aan te pak. As jou te-doen lysie steeds met jou weghardloop en ander mense jou dag vir jou bepaal, soek die oplossing hier:

Kontrakteer uit

Is daar take wat jy kan uitkontrakteer sodat jy meer tyd op verkope, netwerk of bemarking spandeer? Meet die koste op, dit mag dalk goedkoper wees om die tyd waarvoor jy betaal word, te spandeer aan take wat net jy kan doen. Dit mag dalk beteken dat jy ’n virtuele assistent kry om jou kalender te bestuur, ’n agent aanstel om met al jou kliënte op te volg of ’n finansiële beampte aan te stel om in een uur te doen wat jou vyf ure neem.

Hoe waardevol is jou tyd? As jy jou tyd anders spandeer, sal dit ’n wesenlike verskil in jou besigheid maak? Indien wel, is dit tyd om van jou take uit te kontrakteer sodat jy op jou kernbesigheid kan fokus.

Delegeer

Daar mag take wees wat jy nie kan uitkontrakteer nie of wat interne kennis benodig. Dan moet jy leer om jou werknemers meer verantwoordelikheid te gee. Laat hulle toe om foute te maak en raak gemaklik daarmee, want alhoewel dit aan die begin frustrerend gaan wees gaan dit jou sukses in die langtermyn verseker. Entrepreneurs floreer daarop om soveel moontlik take self te verrig, maar ’n gesonde besigheid is een wat sonder jou kan klaarkom.

Verwyder

Daar beland altyd take op ’n doen-lys wat ons doen omdat ons wil besig wees, ons nie vir iemand nee kon sê nie of wat ons doen uit gewoonte uit. As jou kleinste kliënt die meeste tyd en hulpbronne gebruik, raak ontslae van hulle. As jy ure lank op sosiale media of bemarkingsoefeninge spandeer wat geen resultate lewer nie, kruis dit van jou lysie af. As jy vergaderings bywoon wat jy weet nie vrugte gaan afwerp nie, kanselleer dit onmiddelik. Verwyder soveel take van jou te-doen lys af as wat jy kan, sodat jy net jou aandag gee aan dit wat jou besigheid werklik vorentoe gaan neem.

Stel vir jouself ’n uitdaging, in plaas daarvan om gewoond te wees aan ’n agt ure dag, probeer jou werk in net vier of vyf ure afhandel. Watter take sal jy dan moet delegeer, uitkontrakteer of verwyder? As jy jouself minder tyd gee, sal jy begin agterkom watter take jy nie versonderstel is om mee besig te wees nie!

Navorsing dui aan dat die gemiddelde werknemer wat vir agt ure ’n dag werk, slegs vir twee ure en 53 minute werklik produktief is. Of selfs al wil jy lang ure werk, dui Fastcompany aan dat jy omtrent ’n 17 minute breuk moet vat vir elke 52 minute wat jy werk. Die oplossing is nie om meer werk in langer ure te doen nie, maar om minder take te doen wat meer belangrik is.