|

Entrepreneursfokus: Chanelle Retief

Chanelle het NutriFundi in 2017 begin. In 2017 was NutriFundi net ’n dieetkundige praktyk vir buitepasiënte. NutriFundi het intussen gegroei en het tans drie ander dieetkundiges asook ’n praktykbestuurder. NutriFundi het ook gegroei en sien ook nou binnepasiënte (pasiënte in die intensiewesorgeenheid) en het ook onlangs die Crossfit RAG gekoop – by Crossfit RAG is daar twee afrigters wat die klasse behartig asook ’n bestuurder.

NutriFundi is uniek want hier word geglo dat elke persoon uniek is, en dat ’n maaltydplan spesifiek vir elke persoon uitgewerk moet word. ’n Maaltydplan word vir elke persoon volgens sy of haar behoeftes uitgewerk.

Daar is ook aanlyn opsies beskikbaar, nie net op Zoom nie, maar ook ’n vraelys wat kliënte wat ver bly kan invul en dan ’n maaltydplan teen ’n goedkoper prys kan kry.

Chanelle het NutriFundi begin toe sy nog by ’n staatshospitaal gewerk het – sy het vir drie jaar die onderneming opgebou totdat sy genoeg pasiënte gehad het om by die staatshospitaal te bedank.

As entrepreneur was dit vir Chanelle die lekkerste om self te leer hoe om die sosialemedia-advertensies op te stel, haar eie handelsmerk te kies, ’n slagspreuk uit te dink en self te kies presies hoe sy haar maaltydplanne wil uitwerk, ens. Verder was dit ook vir haar baie lekker om haar eerste kantoor te kry, mooi meubels te koop en die kantoor mooi te maak soos wat sy dit graag wil hê.

Die grootste wenk aan entrepreneurs, en ook die moeilikste vir Chanelle was om te besef wanneer jy iets nie meer self kan doen nie. Aan die begin wil jy geld spaar – so jy doen jou eie sosiale media, eie finansiële beplanning, eie fakture, ens. Maar, êrens word dit ’n probleem en moet jy besef wanneer dit die regte tyd is om daardie werk vir iemand anders te gee om te doen.

Die ander wenk wat Chanelle het, is om seker te maak jy is produktief, nie net besig nie.

As jy jou eie onderneming het, werk jy allerhande snaakse tye, en soms voel mens skuldig as jy nie heeltyd werk nie, maar dit is belangrik om seker te maak jy werk nie net omdat jy skuldig voel nie, maar omdat jy werklik produktief is.

“Ek is tevrede met alles wat ek reeds bereik het en dit het al my verwagtinge oortref. Ek sal baie graag meer tyd vir myself wil maak. Ek sukkel soms met ontspanning. Wanneer ek kyk na dit wat ek bereik het, voel ek trots en tevrede.”

Soos genoem sukkel Chanelle om tyd vir haarself te maak, maar het oor die jare gevind dat vrye tyd iets is wat jy in jou dagboek moet aanteken anders gaan jy nooit daarby uitkom nie. Maak seker jy kies ontspanning waarvan jy hou en wat jy weet goed is vir jou. Wanneer jy ontspan, probeer om 100% te ontspan en nie nog steeds bietjie tussenin te werk nie.

Chanelle noem dat sy graag in haar vrye tyd hardloop en oefen, sy is lief vir lees en boonop het sy onlangs met kunsklasse begin en gee sy gedurig aandag aan haar kokketiel Joey.

So lyk Chanelle Retief se dag:

  • Sy staan elke oggend 03:45 op, en dan gaan hardloop sy (sy het tans weer begin oefen vir haar volgende Comrades).
  • Sy begin dan 07:00 in die intensiewesorgeenheid werk. Sy sien ’n hele intensiewesorg- en ’n hoësorgeenheid (23 pasiënte) en probeer so 12:00 klaar te maak by die hospitaal.
  • Ná die hospitaal ry sy huis toe om haar rekenaar en Joey die kokketiel op te tel. Sy sien haar eerste buitepasiënt van 13:00 af, gewoonlik tot 19:00. Daarna gaan sy huis toe en probeer drie keer ’n week by die gimnasium uitkom (maar dit gebeur nie altyd nie). As sy terugkom van die gimnasium af het sy gewoonlik nog bietjie fakture en administrasie wat sy moet afhandel asook maaltydplanne.
  • Op Woensdae is haar dae effens anders – op Woensdae werk sy nie, maar sy is die huidige president van die BNI High Flyers-netwerkgroep. Sy is dan elke Woensdag by BNI tussen 06:30 en 10:00 en daarna probeer sy haar administrasie op te vang en bietjie te ontspan as sy kan.
  • Naweke werk sy ook – maar elke naweek is effens anders. Gewoonlik is sy een naweek af, een naweek werk sy Saterdag en Sondag by die hospitaal en die ander naweek werk sy die Saterdag by die praktyk en is Sondae is af.