ONTMOET ONS ENTREPRENEUR VAN DIE JAAR-KOMPETISIE BORG: STEYN IP

Vertel ons meer oor jou onderneming?

STEYN IP spesialiseer in alle aspekte van immateriëlegoederereg, insluitend handelsmerke, outeursreg, patente en modelreg (ontwerpe), planttelersregte, domeine en domeingeskille, teen-vervalsing, internet- en kuberreg, kunsmatige intelligensiereg (AI), asook vermaak- en mediareg. STEYN IP het ook kundigheid in wetlike nakoming wat verband hou met omgewingsimpak, beroepsgesondheid en -veiligheid, privaatheidswette, toegang tot inligting, cannabis en die verbouing daarvan, asook algemene nakoming van wetgewing en regulasies. STEYN IP kan verder help met handelsreg en kontrakte, asook siviele aangeleenthede, litigasie en ander regsgedinge.

Waarom het jou onderneming betrokke geraak by AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie?

Ons is gedrewe om die plaaslike sake-omgewing te versterk en by te dra tot die sukses van ons ekonomie. STEYN IP glo vas dat entrepreneurs en kleinsakeondernemings die toekoms van die land verseker en dat hulle behoorlik bygestaan moet word. AfriForum Sakenetwerk se kompetisie is net nog ‘n wyse waarop ons kan help.

Dit is nie die eerste jaar wat jy as borg optree nie. Waarom bly jy betrokke? Lê kleinsake-entrepreneurs jou na aan die hart?

STEYN IP is toegewyd aan die ondersteuning en opheffing van entrepreneurs, sake-eienaars en kreatiewe persone wat spesialis-vennote benodig om hulle op hul individuele loopbaanreise te begelei en ondersteun. Ons span by STEYN IP kombineer ons kennis van immateriëlegoederereg met ons ondervinding in die kreatiewe en vervaardigingsindustrieë en is al vir meer as ‘n dekade betrokke by die entrepreneurswêreld. Ons kliënte, groot en klein, in die Suid-Afrikaanse kommersiële, korporatiewe en kreatiewe broederskappe bly ons firma se kernfokus.

Waarna kan deelnemers hierdie jaar as deel van jou borgskap uitsien?

Soos gewoonlik sal STEYN IP aan die algehele wenner ‘n volledige handelsmerk-portefeulje gee . Verder sal ons aan elk van die top vyf wat tot die finaal deurdring ‘n handelsmerk gee en vir hulle werkswinkels aanbied en gesprekke met hulle voer oor die belangrikheid en waarde van ‘n effektiewe immateriëlegoederereg-portefeulje en strategie vir hulle besighede.

Sien jy daarna uit om die top vyf te ontmoet by hierdie jaar se finaal?

Beslis. Dit is altyd vir ons lekker om te sien hoeveel passie elke jaar se top vyf het en hoe opgewonde hulle is oor hulle besighede.