ONTMOET ONS ENTREPRENEUR VAN DIE JAAR-KOMPETISIE VENNOOT: AKADEMIA

Vertel ons meer oor jou onderneming.

Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Die instelling word deur die volgende waardes gerig:

  • Geloof, hoop en liefde
  • Rentmeesterskap
  • Pionierskap
  • Verbondenheid
  • Die strewe na kennis en wysheid

Die volgende onderrigleermodelle word aangebied:

  • Voltydse onderrig
  • Dit word op die Centurion-kampus aangebied.
  • Studente draf bedags klas.
  • Dosente gee op die tradisionele wyse klas.
  • Dit is ideaal vir skoolverlaters wat voltyds wil studeer.
  • Dit bied ʼn bruisende studentelewe.
  • Nauurse afstandsonderrig
  • Dit word by ʼn landswye netwerk sentrums of via e-leer aangebied.
  • Studente woon op weeksaande en Saterdae klas by.
  • Gevorderde tegnologie verbind dosente en studente in ʼn virtuele leerruimte.
  • Dit is ideaal vir werkende studente wat nauurs wil studeer.
  • Waarom het jou onderneming betrokke geraak by AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie?

Akademia is ’n gemeenskapsinstelling wat soos ander vooraanstaande gemeenskapsuniversiteite elders in die wêreld daarop gerig is om die universitêre ideale van ’n spesifieke taal- en kultuurgemeenskap te dien – in Akademia se geval spesifiek die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap.

As ʼn instelling besef ons die waarde van ʼn entrepreneurskapsgedrewe ekonomie en die belangrikheid van entrepreneurskap as ‘n alternatiewe beroeps- en loopbaankeuse. Ter ondersteuning hiervan bied Akademia ʼn BCom-kwalifikasie in ondernemingsbestuur aan wat as wegspringplek dien vir ʼn suksesvolle besigheidsloopbaan.

Hierdie kwalifikasie is deur kundige akademici en bedrewe sakeleiers saamgestel ten einde studente ʼn stewige fondasie in bestuur en sakebedrywighede te bied. Die uniekheid van die program lê in die feit dat dit vir studente deure in elke afdeling van ʼn onderneming kan oopmaak weens die praktiese en doelgerigte aard van die modules waaruit die program saamgestel is.

Dit is nie die eerste jaar wat jy as borg optree nie. Waarom bly jy betrokke? Lê kleinsake-entrepreneurs jou na aan die hart?

Die kompetisie gaan elke jaar van krag tot krag, en die peil van die inskrywings raak net hoër. Dit is vir ons as ʼn instelling verblydend om te sien hoe entrepreneurs jaarliks dié geleentheid aangryp om nie net hul eie vooruitsigte te verbeter nie maar ook as aktiewe verskilmakers in hul onderskeie gemeenskappe na vore te tree.

Dit is vir Akademia ʼn voorreg om jaarliks deel te wees van dié opwindende entrepreneursreis, en dit is vir ons lekker om die deelnemers te ontmoet, met hulle te netwerk en aan ons akademiese familie bekend te stel.

Waarna kan deelnemers hierdie jaar as deel van jou borgskap uitsien?

Akademia is ʼn trotse opleidingsborg en hierdie jaar is geen uitsondering nie.

Akademia et al., gesetel onder die Akademia-vaandel, bied praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou aan individue en ondernemings. Dié kortkursusse word aangebied deur uitgesoekte akademici en kundiges en word verpak om te fokus op die behoeftes van die werksplek asook akademiese verdieping.

As akademiese rolspeler in die Afrikaanse hoëronderwysomgewing fokus Akademia daarop om geleenthede vir lewenslange leer aan ons gemeenskappe te bied.

Sien jy uit daarna om die topvyf te ontmoet by hierdie jaar se finaal?

Ek sien baie daarna uit.

Elke jaar se deelnemers bring ’n nuwe wending, inisiatief en kreatiwiteit na die kompetisie. Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe entrepreneurs idees tot uitvoering bring, unieke produkte en innoverende dienste lewer en regtig hard werk om vir hulself ’n inkomste te verseker en daardeur die ekonomie in hul onderskeie gemeenskappe te help vestig en groei.