Verstaan ​​JOU ideale teikengehoor

Wanneer jy jou besigheid bemark, is dit belangrik om presies te weet met wie jy wil praat sodat jy nie jou bemarkingspogings op mense mors wat glad nie belangstel in dit wat jou besigheid bied nie. 

Vir die beste resultate moet jy seker maak dat jou advertensie iemand bereik wat dalk ‘n behoefte het aan jou produk of diens en die vermoë om dit te kan koop. Jy moet ook verseker dat die boodskap in jou advertensie met daardie persoon praat.

Wanneer jy betaalde advertensies gebruik, sal jy ‘n gehoor moet kies om te teiken, maar dit is nie die enigste keer wat jy ‘n gedefinieerde teikengehoor moet hê nie. In ‘n neutedop: sodra jy verstaan ​​wie jou gehoor is, sal dit jou help om jou bemarkingsboodskap aan te pas vir meer effektiewe verkope. 

“Teikenmark”-betekenis

Kom ons begin by die konsep: Wat is ‘n “teikenmark”? Definisie: ‘n Bepaalde groep waarop die advertensies van ‘n spesifieke produk of diens gemik word. 

Dit is belangrik om daarop te let dat jy nie net een gehoor/mark hoef te hê nie. Afhangende van die tipe besigheid wat jy het, kan jy verskillende gehore/markte hê vir jou verskillende produkte of dienste. Byvoorbeeld, indien jy ’n motorhandelaar is, mag jy dalk gesinsvriendelike en sportmotors verkoop. Deur jou gesinsvriendelike mamma-bus vir enkellopende middeljarige miljoenêrs te wys, mors jy net jou en jou kliënt se tyd. Dieselfde geld in die digitalebemarkingswêreld – ken jou teikenmark!

Waarom het ondernemings ‘n gedefinieerde teikenmark nodig?

Om jou gehoor of teikenmark korrek te definieer is een van die belangrikste aspekte van bemarking.

Baie besigheidseienaars glo dat hulle slegs hul gehore/markte hoef te definieer wanneer hulle van betaalde advertensies gebruik maak – maar dit is glad nie voldoende nie. Wanneer jy bemark wil jy met jou spesifieke nis-mark praat, diegene wat in jou besigheid en produk belang sal stel, eerder as om blindelings aan almal te bemark en te hoop iemand sal koop. Jy gooi letterlik jou bemarkingsfooi weg deur nie aandag aan jou teikenmark-ontleding te gee nie.

Om te verstaan ​​wie jou kliënt is, sal jou help om jou boodskap aan te pas om die behoeftes van elke gehoor aan te spreek. Sodra jy weet wie jou teikengehoor is, kan jy jou inhoud en veldtogte skep met hierdie spesifieke gehore in gedagte.

Stel jou voor jy verkoop ‘n roomys by ‘n mark. Jy sal waarskynlik op verskillende maniere met verskillende kliënte wat jou stalletjie nader praat. As jy besig is om aan ‘n ou man in sy sestigs te verkoop, kan jy hom ‘Oom’ noem en met respek aanspreek. Hy sou bes moontlik sy roomys op grond van geur kies. Stel jou nou voor dat jy ‘n roomys aan ‘n 5-jarige dogtertjie verkoop – jy sal met opgewondenheid met haar praat en sy sal waarskynlik haar roomys op grond van kleur kies. Dieselfde idee moet toegepas word wanneer jy met kliënte d.m.v. digitale kanale praat – jy sal ‘n ander toon en verkoopsboodskap vir verskillende gehore gebruik.  

Hoe definieer jy jou teikengehoor?

Wanneer jy jou gehoor definieer, probeer om jou produkte en dienste in verskillende kategorieë op te deel en definieer dan ‘n gehoor vir elke kategorie. Jy sal vind dat jy waarskynlik ‘n verskillende teikengehoor vir verskillende dienste of produkte het. 

“Besigheid-tot-besigheid” (B2B) of “besigheid-tot-verbruiker” (B2C)?

Eerstens, bepaal of jy aan besighede, individue of albei verkoop. 

Wanneer jy aan individue verkoop, sal jy fokus op die voordele van jou produk – hoe sal jou aanbod persoon se lewe verbeter of vergemaklik. Verbruikers is emosioneel en neem besluite op grond van emosie – jy kan (en moet) dit tot jou voordeel gebruik. Indien jou produk of diens die verbruiker laat opgewonde of goed voel, sal jy bes moontlik die knoop deurhaak!

Wanneer jy aan ander besighede verkoop, is dit die beste om op die kenmerke van jou produk te fokus. Jy moet verstaan ​​wie in daardie besigheid die koopbesluit neem – wat is hul aankoopprosesse? Besighede fokus op logika bo emosie – dit moet eerder vir hulle sin maak as wat dit hulle goed laat voel. 

Teikenmark segmentasie

Marksegmentering, ook bekend as gehoorsegmentering, beteken om potensiële kliënte in betekenisvolle groepe te verdeel op grond van hul eienskappe, begeertes en gedrag. Jy moet dieper in jou gehoor kyk as net ligging, ouderdom, geslag en inkomstegroep.

Hier is ‘n paar faktore om te oorweeg: 

Geografie – Woon hierdie persoon in ‘n stad of klein dorpie? Het hulle toegang tot winkels? Het hulle toegang tot hoë spoed-internet?
Psigografie – Watter tipe leefstyl volg hierdie persoon? Eet hulle uit of kook hulle graag tuis? Wat is sy/haar stokperdjies en wat is hul waardes?
Gedrag – Koop hierdie persoon aanlyn en hoe gereeld? Watter foon gebruik hulle (ja, Appelliefies, julle word gekategoriseer)? Hoe lyk sy/haar digitale aktiwiteit? Reis hierdie persoon graag? 

Ontwerp ‘n koperspersona

Die beste manier om jou ideale kliënt realisties te visualiseer, is om ‘n koperspersona te skep. Dink aan jou teikengehoor as een persoon – wie is daardie persoon? Ons noem dit om ‘n koperspersoonlikheid te definieer.

Gee jou koperspersoonlikheid ‘n naam en ouderdom, ‘n werkstitel, en dink aan wie hulle is as mense. Om hierdie persoon se behoeftes en benodighede te verstaan beide by die huis en in die werksplek (as dit aan besighede verkoop word), sal jou help om beter te bemark. Sodra jy werklik begryp “wie” hierdie persoon is, sal dit jou help om te verstaan ​​watter probleme hulle in die gesig staar en hoe jou diens- of produk-aanbod daardie probleem vir hulle kan oplos. 

Vrae om vra wanneer jy aan jou ideale kliënt as persoon dink: 

  • Wat is daardie persoon se stokperdjies?
  • Het hy/sy ‘n gesin?
  • Het hy/sy kinders?
  • Hoe oud is die kinders?
  • Gaan hy/sy met vakansie?
  • Gaan hy/sy op gereelde oorsese vakansies?
  • Wat is daardie persoon se inkopie-gewoontes?
  • Hou hy/sy daarvan om uit te eet?
  • Watter foon gebruik hy/sy?

Vrae te vra wanneer jy aan jou ideale kliënt in hul werksrol dink: 

  • Hoe belangrik is hierdie persoon se werk vir hulle? 
  • Dit is hul eie besigheid / het hulle aandele in die besigheid / of werk hulle net daar? 
  • Hou hierdie persoon van hul werk?
  • Wat is hul werksdoelwitte?
  • Is hierdie persoon ‘n besluitnemer of ‘n navorser? 
  • Aan wie rapporteer hierdie persoon?
  • Watter probleme ondervind hulle in hul werksrol en hoe kan jy hulle bystaan? 

Al die bogenoemde inligting sal jou help om teikengehore vir jou besigheid beter te definieer, en op sy beurt jou bemarkingsboodskap aan te pas om direk te praat met die behoeftes van die persoon wat dit ontvang.